Die
Voortrekker
storie

Die storie van Die Voortrekkers wat reeds vir langer as agt dekades geskryf word, is een van die Afrikaners se mooiste kultuurstories.

 

Dit is ’n storie van deursettingsvermoë, van toewyding en opoffering.

Afrikanerskap

Burgerskap

Christenskap

Diensbaarheid

Die storie van Die Voortrekkers is ’n verhaal van vrywilligers wat hul vrye tyd gebruik om graadwielboeke, handleidings en ander literatuur te skryf. Geboue, spankamers en kampterreine het deur harde werk en innoverende denke ontwikkel tot spogprodukte.

 

Dit is ’n storie van sente omdraai, moue oprol, vasbyt en hard werk. Dit is ’n storie van historiese feeste, monumente bou en erfenisse bewaar. Dit is ’n storie van betrokkenheid, praktiese omgee en diensbaarheid in plaaslike gemeenskappe.

 

Die Voortrekkerstorie vertel ’n verhaal van planne, vars denke, aanpasbaarheid en hoëfunksieprestasies. Dit is ’n storie van liefde vir Afrikaans, Afrikanerkultuur, Afrikanerkinders, maar bo alles, vir die Here.

 

Ook is dit ’n storie van pret, kameraadskap en avontuur.

 

Dit is geen wonder dat Die Voortrekkers oor dekades heen gegroei het tot ’n lewenskragtige, en saakmakende kultuurorganisasie nie.

Getrou aan die oorspronklike stigtingsideale van NJ van der Merwe, Vader Visser en Japie Heese is Die Voortrekkers vandag steeds ’n toekomsgerigte jeugorganisasie wat:

 

  • Afrikanerkinders se karakter deur Bybels-Christelike waardes vorm.
  • Afrikanerkinders die geleentheid bied om hul kultuur in die natuur deur avontuur te geniet.
  • Afrikaners begelei om as oortuigde Christene nie net Bybelse waardes in hul persoonlike lewens uit te leef nie, maar ook om gemeenskapswaardes deur middel van diens, deelname en standpunte te help vorm.
  • Afrikanerkinders help om lewensvaardighede te ontwikkel om as uitnemende en diensbare leiers ’n betekenisvolle en positiewe bydrae te lewer tot die land en die kontinent.
  • Afrikanerkinders ’n tuiste bied waarin hulle Afrikaners se geskiedenis, taal, kultuur en tradisies ten volle kan uitleef en geniet.

 

Hierdie ideale het oor dekades neerslag gevind in die wese, waardes en strategiese doelwitte van Die Voortrekkers om jong Afrikaners as uitnemende leiers te ontwikkel.

3
tuis1
2
tuis4

Dit is ’n storie wat vandag steeds geskryf word.

Jy is nou deel van die storie. Dit is ook jou storie.

Deur jou deelname skryf jy aan die volgende hoofstuk van die verhaal.

Wat bied Die Voortrekkers

Die Voortrekkers se metode vir leierskapontwikkeling is die kombinasie van Kultuur, Avontuur en Natuur.
Deur dié metode het Die Voortrekkers vir meer as tagtig jaar bewys ons KAN suksesvol dienbare leiers vir môre ontwikkel.

 

Die uitkomste van Die Voortrekkers se leierskapsontwikkeling is selfdoen-Vaardighede, waardegedrewe Antwoorde en die praktiese Toepassing daarvan.
Hiermee VAT Voortrekkers die toekoms met selfvertroue.

Geakkrediteerde opleiding

Kursusse, Spesialisasies en Avontuuraktiwiteite word deur kenners aangebied en voldoen aan streng riglyne.

Avontuur in die natuur

Die Voortrekkers bied ’n groot verskeidenheid avontuuraktiwiteite in die natuur. Boogskiet, Perdry, Rotsklim, Hengel, Staptoere – die lys hou aan!

Leierskapsontwikkeling

Die Voortrekkers streef na die ontwikkeling van jong leiers.

Erkenning en toekennings

Die Voortrekkers vier elke lid se prestasies en bied menige toekennings vir besonderse dienslewering en leierskap.

Spanleierskap en spanwerk

Die Voortrekkers bevorder elke lid se samewerking in spanverband en skep geleenthede waar leierskap binne-in ’n span toegepas kan word.

Toepassing van Christelike waardes

Die Voortrekkers is gevestig op Christelike waardes en skep geleenthede om Christelike waardes toe te pas.

Landswye netwerk van vriende

Voortrekkerkampe heg nuwe vriendskappe met Voortrekkers uit verskillende dele van Suid-Afrika en Namibië.

Moderne Afrikaanse kultuurervaring

Ons Afrikaanse taal en kultuur word op moderne maniere bevestig en verleen ruimte vir verdere groei en ontwikkeling van ons herkoms.

Vaardigheidsontwikkeling

Vaardighede vanuit ’n wye spektrum word aangeleer en ontwikkel by Die Voortrekkers.

Gemeenskapsprojekte

Die Voortrekkers is betrokke in plaaslike gemeenskappe en bied ondersteuning deur verskeie projekte aan Suid-Afrikaners.

Boublokke van die Voortrekkers

Geloof

Die Bybel is ons grondslag.

’n Voortrekker glo in die Drie-Enige God en dien Hom.

Trots

Ons naam, Die Voortrekkers, definieer ons. Daarin lê eeue-oue kulturele kapitaal, Afrikaneridentiteit en tradisies opgesluit.

Ons is trots op wie ons is en daarom neem Die Voortrekkers ook mede-verantwoordelikheid om ons taal, Afrikaans Afrikanerkultuur en ons geskiedenis met trots te bevorder.

Span

Voortrekkerwerk is spanwerk. By Die Voortrekkers leer jeuglede om deur middel van spanleierskap en saamwerk gemeenskaplike doelwitte te bereik.

Deur spanwerk word jeuglede se karakter as ABC-mense gevorm.

KAN

Die kombinasie en balans tussen kultuur, avontuur en natuur is Die Voortrekkers se geheime resep vir jeugontwikkeling. Die eerste letters van die woorde spel KAN. Voortrekkers is nie Voortrekkers as een van die KAN-boustene ontbreek nie. Waar dit in balans gebring word, KAN ons ’n verskil maak aan ’n kind se lewe. In Die Voortrekkers ontdek elke kind hulle KAN.

Die Voortrekkers bied jaarliks tydens skoolvakansies veertig veld-, see-, water- en woestynkampe op provinsiale grondslag regoor Suid-Afrika en Namibië aan. Dan is daar boonop ’n magdom spankampe, plaaslike kommandokampe, oordkampe en Voortrekkertoere wat deurlopend aangebied word van die Caprivi tot Seepunt. Op Voortrekkerkampe word kultuur en avontuur in die natuur op ’n unieke wyse ervaar.

VAT

Deur die ontwikkeling van selfdoen-Vaardighede, waardegedrewe Antwoorde en praktiese Toepassing VAT Die Voortrekkers die toekoms met selfvertroue.

Selfdoenvaardighede word ontwikkel deur 92 laerskool- en 123 hoërskoolkentekens wat aangebied word in spanverband, spesiale geleenthede en kampe.

Met die Bybel as grondslag en aan die hand van die Voortrekkerkode dink Die Voortrekkers saam oor aktuele vraagstukke en ontwikkel positiewe waardegedrewe antwoorde.

Die Voortrekkers leer jeuglede om Bybelse waardes en selfdoenvaardighede in hulle konteks prakties toe te pas deur hulle gemeenskap positief te beïnvloed.

Diens

Diensbaarheid is die asem van Die Voortrekkers. Sonder ’n gesindheid van diensbaarheid is ’n gemeenskap se kultuurlewe dood. Om die rede is elke Voortrekkerbelofte ’n belofte van diensbaarheid.

Die Voortrekkerkode word verwerklik deur diensbaarheid. In die eerste kode sê Voortrekkers ons dien die Here. Die tiende kode sê ons Voortrekkers leef diensgerig en diensvaardig. Die eerste en die tiende kode omsluit Die Voortrekkers se etos van moderne Afrikanerskap, positiewe Burgerskap en konsekwente Christenskap. Diensbaarheid behoort tot die wese van Voortrekkerwees. Die Voortrekkers bied ’n ruimte waar lede diensbaar kan wees aan die Here, ons land, ons kinders en ons gemeenskap.

Leierskapsontwikkeling

Die Voortrekkers verstaan nie leierskap as posisies, range of titels nie. Elkeen wat verantwoordelikheid vir hom- of haarself en vir ander aanvaar, is in Die Voortrekkers ’n leier. Die Voortrekkers begelei jeuglede om hulle volle leierskappotensiaal te verwerklik deur ’n gesindheid van diensbaarheid.

Die Voortrekkers begelei ons jeuglede om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle eie toekoms, maar ook medeverantwoordelikheid vir hulle gemeenskap en omgewing.

Die Voortrekkers het vier omvattende leierskapsontwikkelingsprogramme vir laerskool-, hoërskool-, naskoolse en volwasselede. Na suksesvolle voltooiing van elke fase word nasionale erkenning op laerskool gegee deur middel van die Voorslagtoekenning en op hoërskool deur die Presidentsverkennertoekenning in kulturele leierskap.

Die Voortrekkers is ’n geakkrediteerde opleidingsinstelling wat verskeie SETA-geakkrediteerde kursusse, toerustingskursusse en persoonlike verrykingsgeleenthede vir naskoolse jongmense en volwasse lede aanbied.

Prestasie

Voortrekkers is voorposmense. As eietydse pioniers trap ons nuwe spore, dui nuwe koers aan – grensverskuiwend, saakmakend en rigtinggewend. Voortrekkers stagneer nie, maar streef na uitnemendheid in alle opsigte. Middelmatigheid en tweede beste is nie vir Die Voortrekkers ’n opsie nie. Met min sente en baie kreatiwiteit het Die Voortrekkers altyd ’n plan om ’n uitnemende geleentheid aan te bied. Die les uit ons verlede is: Prestasie skep toekoms.

Familiehuis

Die Voortrekkers is ’n gesellige familiehuis met baie kamers. In die huis word vriende vinnig soos familie. Die Voortrekkers bied ’n behoortruimte waar oupa en ouma, pa en ma saam met hulle kinders in ’n gebalanseerde kultuuromgewing saam kuier, saam dien en saam kultuur met avontuur in die natuur geniet.

6
tuis6
tuis9
8
afAfrikaans